Riviersonderend, Western Cape, South Africa
Biografie
Sterf op Goreesdrift, Breederivier; In die vroeë jare van Swellendam was onderwysers baie skaars, maar Jakob het ’n Hollander raakgeloop om vir sy kinders skool te hou op die plaas. Eendag aan tafel sê die onderwyser vir Jakob: “Meneer van Eeden, die kos smaak na vuur". Vandag sal ons sê die kos het gebrand. Jakob sê vir die Hollander: “As jy nie die kos wil eet nie, dan los jy dit.” Want Jakob was ’n man wat nie veel verdra het nie. Die ou meester begin naderhand moeg word vir die lewe op die plaas en begin maak of hy mal word. Elke dag dreig hy dat hy homself gaan ophang. Jakob sê toe vir sy seuns dat hulle, aangesien onderwysers skaars is, snags beurte sal moet maak om hom op te pas. Een nag hoor hulle ’n gewerskaf in Meester se kamer, en hulle storm toe in en sien dat Meester besig is om ’n riem aan een van die balke vas te maak. Die seuns bied toe aan om hom te help. Hulle maak hom vas sodat net sy tone aan die vloer raak, neem ’n sambok en gee hom ’n loesing wat hy nooit sou vergeet nie. Toe hulle hom daar losmaak, spring hy onder die komberse in en trek sy kop toe. Die volgende môre vertel die meester vir Jakob dat die duiwel weer die vorige nag in hom gevaar het, maar dat die seuns hom daaruit geneuk het. Daarna was die storie van ophang op ’n end. ’n Man het gehoor dat Jakob so vinnig kon hardloop en ry te perd om hom te besoek en bevestig. Daar gekom, steek Jakob sy hand uit om te groet, stel homself voor en vra vir die vreemdeling: “En wie is neef, as ek mag vra?” Die vreemdeling sê: “Dit traak jou nie,” en ruk sy perd om om weg te jaag, maar terwyl hy nog sy spore in die perd se ribbes inkap, het Jakob al die toom in sy hand en hou die perd vas en wou die vreemdeling met geweld slaan. Die man praat toe mooi, soebat en belowe om dit nooit weer te doen nie. Jakob sê toe: “Ou neef, ek waarsku jou om nooit weer iemand so te beledig nie.” So het die vreemdeling amper ’n pak slae gekry. Later jare, toe Jakob se seuns al groot was en nog by hom op die plaas gebly het, het hy en twee van sy seuns met twee ossewaens Kaapstad toe gery om koring te gaan verkoop. Hulle nader ’n uitspanplek en sien ’n wa wat uitgespan staan en langs die wa staan ’n man met drie Basters en redekawel. Daar gekom, vertel die man vir Jakob dat die Basters dreig om sy geld te vat, aangesien hy op pad terug is van Kaapstad af. Een van die basters staan naby Jakob, en Jakob haak af en slaan hom met een hou, dat hy bo-oor die disselboom val. Toe sy twee seuns dit sien, val hulle die ander twee Basters aan. Toe die Basters besef dat hulle nou met wilde boere te doen het, hardloop hulle weg om nooit weer terug te kom nie.
Familie van Jacob van Eeden
(a1b4c5d3e4)