Caledon, Western Cape, South Africa
Arnot, Mpumalanga, South Africa
Biografie
Sterf op plaas Nooitgedacht naby Arnot, aan huis van sy dogter, Engela, en Hans Laubscher waar hy woonagtig was; op die ouderdom van 10 jaar trek hy saam met sy ouers Transvaal toe. Hulle kom ongeveer 1875 in die distrik Potchefstroom aan en bly tydelik by ’n oom van sy pa, ene Pieter Gildenhuys, wat êrens langs die Mooirivier naby Losberg geboer het. Ná ’n paar jaar besluit sy pa om Brits-Betsjoeanaland toe te trek, agter beter weiding aan vir sy vee, maar keer ná ses maande terug Transvaal toe en vestig hulle op Van Collerskop naby Heidelberg. Hier het Jozua sy tienerjare deurgebring. Hy is ook in die NG Kerk aangeneem en as lidmaat voorgestel deur ds van Warmelo. In ongeveer 1885 trek hy saam met sy ouers na Boesmanskloof in die Middelburg distrik naby Arnot. Hier ontmoet hy sy aanstaande vrou en na hul troue gaan woon hulle op die plaas Boesmanspuit in dieselfde distrik, en hulle verwek 14 kinders. Sy wedervaringe aan die Natalse front tydens die Anglo-boereoorlog van 1899-1900 word beskryf in ’n verhandeling wat deur Louis Jacobus Eksteen vir sy B.A. (Hons.) graad en ’n eksemplaar van die boek is nou deel van die dokumentêre bewysstukke vir hierdie stamboek. In die dae toe Joshua en Sannie getroud is het ’n predikant nie bevestigingsmagte gehad nie en moes ’n paartjie eers deur ’n landdros bevestig word om wettiglik getroud te wees en dan deur ’n predikant bevestig word om gekerk te wees. Dit is dan uit daardie tydperk toe die gesegde ontstaan het 'getroud maar nog nie gekerk nie'. Die nag voor hul troudag het dit heelwat gereën en toe hulle by die Klein Olifantsrivier kom op pad Middelburg toe het die rivier al sterk geloop maar hulle kon nog deur. Nadat hulle voor die landdros getroud is, gaan hulle kerk toe. Die mense was daar maar geen predikant nie. Sonder hulle medewete het die predikant, ds AP Burger, gaan huisbesoek doen in die distrik en toe hy by die rivier kom, lê dit kant aan wal en kon hy nie deur nie en moes hy in die distrik oornag. Die gaste het toe maar teruggekeer huis toe en die egpaar moes met ’n ompad al langs die rivier gaan tot by Klipplaatdrif waar die pad na Hendrina deurgaan. Op pad het een van die perde wat die bruidskar getrek het in die tuig gevrek want sy blaas het gebars. Gelukkig was daar perderuiters saam met die troukar en een van die ruiters se perd word toe ingespan. Toe hulle laat middag op die plaas kom, was daar 'n klomp mense en hulle besluit toe maar om die bruilof te hou en dans die hele nag deur. Die volgende oggend is hulle weer Middelburg toe om gekerk te word en toe hulle weer by die huis kom, was daar 'n klomp jongmense wat kom bruilof hou en toe dans hulle weer die hele nag deur.
Jozua het altyd vertel dat sy ma versot was op waterblommetjiebredie. As kind moes hy en sy broers altyd vir haar waterblomme gaan pluk. Hyself het niks van die bredie gehou nie, gevolglik het hy, wanneer hulle dit klaar gepluk het, koers gekies veld toe en eers donker teruggekom. Nuwejaar 1895 wou Jozua, soos die gewoonte was, 'n nuwejaarskoot afskiet. Vir dié doel was 'n voorlaaier gebruik. Die oggend het hy nie die kruit afgemeet nie en sommer geskat en hopeloos te veel kruit ingegooi. Toe die skoot klap, bars die loop oop, die kolf is weg, sy hand vol snye en 'n paar wonde aan sy kop en sy ringvinger se voorste lid het hulle 20 meter verder opgetel. Met sy transportryery moes hy ook 'n eerste nag in Johannesburg oorbly. Hy stap deur die strate en soek na 'n plek om te eet, sien 'n vrou op 'n straathoek staan en vra haar of sy van 'n plek weet. Nee, sê sy, maar ek kan iets beter as kos aanbied en trek haar rok 'n endjie op. Jozua het die hasepad gekies.
Gedurende die winter van 1894 was Jozua opgekommandeer om teen Malabock te gaan veg onder bevel van generaal Joubert en het maande lank gesukkel om Malabock uit sy shuiling te kry. Hulle moes hom en sy mense in die grotte uithonger en sy water afkeer om hom tot oorgawe te dwing. Daarna vertrek hulle om met die parmantige stamme van Magoeba en Modjadje af te reken.
Familie van Jozua Francois van Eeden
(a1b4c5d3e4f5g3)