Bethulie, South Africa
Bethulie, South Africa
Biografie
Van Oliefenfontein, Smithfield met huwelik. Sy was alom bekend as Meraai en was 'n sterk en hardwerkende boervrou - kort en geset en het eendag in haar kombuis 'n uitgegroeide jong swart met een klap plat teen die vloer geslaan. Sy was baie lief vir haar pluimvee en het geboer met hoenders, kalkoene, eende, makoue en 'n groot trop ganse. Die ganse is dikwels gepluk vir hul vere en donse. Die ganse kon geniepsig byt wanneer hulle gepluk word en navorser sien nou nog die prentjie van sy ma met 'n gans op haar skoot en die gans se kop met 'n kous daaroor getrek onder haar arm vasgeknyp.
Sy was 'n bobaas kok en kon die lekkerste boerekos kook wat altyd opspraak verwek het by elke kuiergas. Die gevolg was dat die plaas tydens skoolvakansies gewemel het van kuiermense en kinders. Sy het 'n boerekonsertina besit en kon dit ook bespeel. Sy was lief om namiddae wanneer sy naaldwerk doen, vir haar kleiner kinders wat nog nie op die lande kon werk nie, by haar voete op die vloer te llat sit en dan vir hulle stories te vertel, liedjies te sing en op die konsertina te speel. Sy was saam met haar moeder en jonger broers en susters in die konsentrasiekamp op Behulie waar sy ook twee van haar sustertjies aan die dood moes afstaan.
Eendag, nadat sy lank gekerm het oor die tekort aan vuurmaakhout op die werf, het sy die kos alles voorberei en op die dooie stoof in kastrolle gesit. Toe die mans van die lande af kom om te kom eet, sê sy vir hulle 'Daar staan julle rou kos op die stoof, eet dit as julle wil, want hoe moet ek dit gaarmaak sonder hout?'. Hulle moes toe maar tevrede wees met brood en melk maar daarna was daar altyd berge hout op die werf, want hout was volop bekombaar langs die rivier en is aangery huis toe met 'n bokwa.
'n Ander buurplaas wat aan Vergelegen gegrens het was Grootrivier nr 445, groot 640 mrrge, 'n gedeelte van die plaas Damfontein nr 341 wat aan Ben Coetzee behoort het. Maria se pa koop toe Grootrivier by Ben Coetzee en gee dit later vir Maria as 'n geskenk. Op 16 Junie 1939 met Transport nr 1702/1939 word Grootrivier in haar man se naam geregistreer.
Familie
Lewenslyn
Aantekeninge
Gebore op plaas Pandam, dist. Bethulie; sterf in hul dorpshuis op Bethulie aan hartaanval; Graf in Bethulie. (d.v. Leendert Johannes Haasbroek & Johanna Margaretha Haasbroek).