Bethulie, South Africa
Vanderbijlpark
Biografie
Hy het sy skoolloopbaan in Vergelegen A se plaasskool begin. Toe hy in std 1 was het sy ouers reeds op Vergelegen A gebly. Die dag toe die nuwe veedip klaar bebou was en vol water gemaak was, word hy onder begeleiding van sy oudste broer, Fred, deur mej Vorster na sy pa gestuur omdat hy so baie spelvoute gemaak het. Sy pa sê toe vir hom, jy wil nie leer nie, nou sal ek jou maar in die dip moet gooi, maar groet eers al die mense wat hier om die dip staan. Nadat hy almal gegroet het, vat sy pa hom aan sy arms en laat sak hom in die water en hou hom daar. Hy dompel hom so paar keer onder die water dat hy hyg na sy asem. Toe dit vir sy broer Fred lyk dat hy nou gaan verdrink, hardloop hy in trane van die toneel af weg. Nadat hy sy skoolloopbaan op Bethulie beëindig het, gaan boer hy saam met sy pa op Vergelegen A. Toe sy vader te sterwe kom, koop hy Vergelegen A en Rossouw op die vendusie vir 2 105 pond asook 'n klompie plaasgereedskap vir 314 pond. Hy het nie genoeg geld gehad nie maar met 'n Landraad lening registreer hy die grond onder Transportakte nr 4929/1945. Hy was baie lief vir sy merino skape en doen weg met mielies en koring saaiery en sit al die lande onder lusern vir voer vir sy skape. Na 'n paar jaar koop hy 'n Southern Cross diesel enjin en vervang die ou gasenjin waarmee gepomp was. In 1954 koop hy die huurplaas Grootrivier by sy oudste broer Fred vir 4 480 pond. Na verloop van tyd koop die regering al die plase stroomop van Bethulie af uit om plek te maak vir die HF Verwoerd dam en moes Leonard 'n ander plaas gaan soek. Hy koop toe vir hom die plaas Kransfontein in Trompsburg distrik. Kransfontein het bestaan uit drie dele naamlik Langholm, Gretna en Hartebeesfontein en was geleë waar die grense van Trompsburg, Bethulie en Smithfield bymekaar kom. Die plaas was baie verwaarloos en die veld uitgetrap. Hy moes 'n gronddam bou om water op te gaar en talle kampe aanbring vir wisselweiding en dit voorsien van water met lang pyplyne. Nadat hy die plaas klaar ontwikkel het en net nadat hy die laaste paaiement betaal het en die boerdery bietjie kon afskaal om rustiger te lewe, sterf hy. Tydens die besigtiging van die lyk het die vroue lykbesorger aan sy gesig gevat en gesê: 'Waar gaan die arm mense nou kos vaandaan kry?'. Dit was sy gewoonte om vir die behoeftiges van Trompsburg te voorsien van groente en vleis. Na sy dood word die plaas en alles daarop op 'n vendusie verkoop vir R289 000. Elke kind erf R65 863.17 en sy vrou die polisse, 'n huis op die dorp en R27 547.94.
Leonard kon altyd met 'n koddige handeling of sêding vorendag kom. Eendag op die strand terwyl almal besig was om hulle sakke te vat om huistoe te gaan, vat hy sy oudste seun wie toe al begin kruip het, ook so aan sy klere op sy rug en dra hom soos 'n sak van die strand af tot groot vermaak van party mense en die misnoeë van ander. So sê hy eendag vir een van sy broers dat ons broers nie moet toelaat dat ander mense se kinders ons broers se liefde vir mekaar moet belemmer nie. Hy was 'n hardwerkende boer. Hy het 'n rievierplaas se skuins landerye met breë akkers wat agt arbeiders moes natlei, so omskep in terras akkers met sement vore en sluise sodat hy dit alleen kan natlei en nog dorp toe kan gaan om inkopies te doen. 'n Ander plaas se veld was so vol miershope en brak kolle wat morge weiveld in beslag geneem het. Deur die brak kolle op te breek sodat die water kan insink en die miershope se grond te gebruik om keerwalle in die veld te gooi, was daar binne twee jaar nie 'n kolletjie wat nie weiding op gehad het nie. As die dorpskinders op die plaas kom kuier wou hulle altyd by hom weet hoe hy dit regkry om die skape te tel as hulle so vinnig by hom verbykom, dan sê hy dit is maklik, hy tel net die pootjies en deel dit deur vier. Leonard het nooit gedans nie en as hy daarom uitgevra word, het hy altyd gesê hy lê liewer en vry voordat hy so loop en vry.
Familie
Lewenslyn
Aantekeninge
Sterf aan koronêre trombose te waar hy vir sy oudste seun gekuier het; Begrawe in Trompsburg op 1 November.
Foto van hom en sy vrou, Miemie Hartman en 'n kleinkind.