Vergelegen, Bethulie, South Africa
Brackenfell, Cape Town, South Africa
Biografie
Daniel beteken 'my regter is God' en Hendrik beteken 'regeerder van sy huis'. Navorser en Opsteller van die van Eeden en Willers/Wilders geslagsregisters tydens verblyf in Valhalla, Pretoria. Op die dag van sy begrafnis is die eerste vyf eksemplare van sy voltooide gebinde boek by die huis afgelewer. Daniel was die enigste kind wat op die plaas gebore was om 3 vm en hy het 11 pond geweeg. Hy het 'n opwindende werksloopbaan gehad waartydens hy baie ondervinding en mensekennis opgedoen het. Na sy skoolloopbaan op Bethulie gaan soek hy werk in Johannesburg. Sy eerste werk was die van 'n rottevanger vir Johannesgurg Fumigators. Die werk staan hom nie aan nie en na 'n maand kry hy werk op die Spoorweg maar na 3 maande besluit hy dat die oorlog meer opwindend sal wees en sluit aan by die weermag. Tydens sy 3 jaar en 3 maande in die Staande Mag was hy op aktiewe diens vir 2 jaar in Italië saam met die I.L.H. Kimberley en Pretoria regimente in die 6de divisie. Na die oorlog gaan werk hy weer op die Spoorweg as stoker vir 2 jaar 4 maande, maar bedank om vir Alrite Engineering te gaan werk vir 1 jaar en 6 maande. Hierna gaan kwalifiseer hy as eksploreermeester by Unidrilling Beperk. en werk vir hulle vir 18 jaar waartydens hy as areabestuurder optree vir Unidrilling Rhodesië Bpk. vir 5 jaar en 3 maande in beide Suid en Noord Rhodesië en daarna vir Unidrilling UK Ltd. in Engeland vir 2 jaar en ook vir 3 maande in Duitsland. Tydens sy verblyf in Engeland gaan tor=er hy en sy vrou deur Europa. Hy bedank by die firma om mede-eienaar te word van Eedenberg Motors (Edms) Bpk., 'n motorhandelsaak op Pietersburg (nou Polokwane) en bestuur dit vir 12 jaar. Hierna word hy mede-eienaar van Andy's Roadhouse (padkafee) vir 3 maande en gaan toe op sy eie en begin Easy Eats wat hy na 3 jaar en 6 maande verkoop en aftree. Hy was vir 5 jaar bestuurslid op die Pietersburg Afrikaanse Sakekamer en onder sy voorsitterskap het hy die Sakekamer Studiebeurs Fonds begin wat vandag nog bestaan. Tydens sy voorsitterskap moes hy ook 'n spreekbeurt op die AHI kongres te Pretoria waarneem. Tydens sy verblyf in Pietersburg was hy 'n stigterslid van die Pietersburg Filateliste Vereniging en het gedien as ondervoorsitter op die bestuur en was ook redakteur van die Vereniging se maandelikse nuusblad.
Familie
Lewenslyn
Aantekeninge
Gebore op Vergelegen, Bethulie; Sterf aan hartaanval in sy motor by winkelsentrum tterwyl hy wag vir sy vrou om uit die winkels te kom.; begrawe in Stikland begraafplaas, Bellville.
Foto van hom en sy agterkleinseun Ivan Dean Enslin.