Montagu, South Africa
Bloemfontein, South Africa
Biografie
Hy het groot geword op Rietvlei nr 1 en het ook skool gegaan op die plaas. As jong seun van 16 jaar trek hy saam met sy ouers Vrystaat toe na die plaas Vergelegen langs die Oranjerivier, in Bethulie distrik, wat sy pa gekoop het. Hy en sy broer Fanie het op die onderste gedeelte van die plaas begin boer met volstruise. In die tyd is hy getroud met 'n meisie vir wie hy te perd in Smithfield distrik gaan kuier het. Sy twee oudste seuns Fred en Leonard is daar gebore. Toe sy pa dorp toe trek, gaan bly hy en sy gesin op die boonste deel van die plaas. Nadat 'n landmeter die plaas opgemeet het en verdeel het in Vergelegen A en B was die deel waar hy op bly Vergelegen A genoem en die ondertse gedeelte Vergelegen B. Eers na sy pa se dood kon hy die plaas op sy naam registreer. Op 24 Oktober 1935 onder Transport 2345/1935 registreer hy Rossouw nr 355 groot 100 morge op sy naam en op 18 Julie 1936 onder Transport nr 1876/1936 registreer hy Vergelegen A nr 342 (vroeër nr 563 distrik Rouxville) groot 665.6 morge op sy naam. Op 14 Julie 1925 onder Transport nr 2479/1925 registreer hy ook erf nr 652 groot 69 vk roede 64 vk vt wat hy gekoop het vir 255 pond op sy naam.
Toe Jacobus op Vergelegen A begin boer het was daar net 'n woonhuis, 'n waenhuis en een land onder lusern onderkant die woonhuis. Hy moes eerstens begin sorg vir water vir die land en koop toe 'n Imperial gasenjin by 'n boer langs die Caledonrivier. Die enjin is op 'n slee gelaai en met 'n span osse die rivierwalle uitgesleep en toe op 'n klipwa gelaai om te vervoer Vergelegen toe. ('n Klipwa is 'n lae plat wa met houtblok rollers vir wiele, wat gebruik was om klippe uit die lande uit te ry). So 'n pompstelsel het bestaan uit 'n enjin, 'n generator en 'n gasreiniger (scrubber). Die generator het bestaan uit 'n hopper, 'n verdamper (vaporiser), 'n rooster en 'n aspan. Vuur is gemaak met antrasiet in die generator en die ingeboude verdamper het stoom deur die vuur laat trek om gasse te vorm en om versmelting en klinkering te voorkom. Vanaf die generator het die gas na die reiniger gegaan wat gevul was met kooks waardeur water gevloei het om die gas te reinig. Dan het die gas na 'n versamelkas (expansion box) gegaan wat by die enjin monteer was waar die gas versamel word om 'n standhoudende toevoer na die enjin te bewerkstellig. Die gas word dan deur die suier van die enjin ingesuig om deur 'n ontstekingsmagneet aan die brand gesteek te word. Twee groot vliegwiele aan weerskante van die enjin voorsien momentum en krag aan die suier wat 'n sentrifugale pomp moet aandryf om die water uit die rivier te pomp.
Na die masjien opgerig is, het die eerste vloed in 1925 gekom. Die Oranjerivier het sy walle oorstroom en die hele masjien en die masjienhuis bedek onder die modderwater. In 1933, na die droogte, het die rivier vir die tweede keer sy walle oorstroom. Na elke vloed was dit 'n groot werk om die slik uit die masjienhuis te verwyder en die masjienerie weer skoon te kry voordat dit kon gebruik word. Antrasiet was die brandstof vir 'n gasenjin maar gedurende die depressie van 1931 - 1934 was dit onverkrygbaar en geld net so skaars. 'n Plaasvervanger is vervardig deur 'n groot gat te grawe en droë hout, wat na die vloed volop langs die rivier beskikbaar was, daarin te verbrand om houtskool te maak. Voordat die hout heeltemal uitgebrand was, is dit toegegooi met grond om te smoor en te verhoed dat dit tot as verbrand. Houtskool het net sulke goeie gas vervarrdig as antrasiet maar mens het meer daarvan gebruik. Gedurende die jare 1928 tot 1933 het 'n sak antrasiet 3 sjielings gekos. Daar is gewoonlik 10 ton antrasiet bestel wat 10 pond gekos het en die spoorvrag daarop was 11 pond. Daar kon 'n hele dag gepomp word met twee sakke antrasiet wat die lopende koste met arbeid op 10 sjielings per dag te staan gebring het.
By die gasenjin is ook 'n klipmeule opgerig wat deur die gasenjin aangedryf is. Die maalstene is van klip gemaak. Navorser kan nog onthou dat die maalstene af en toe uitgehaal is om skerp te maak. Dan is met hamer en beitel holtes in die platkant gekap wat skerp kantjies gevorm het wat die maalaksie bevorder het. Mielies en koring is gemaal vir huis gebruik. Die ongesifte mieliemeel het die geurigste pap gemaak en die koringmeel het die lekkerste bruinbrood gebak want die kiem van die pit is nie verwyder nie. Na die oprigting van die pomp moes landerye bygemaak word. Die rivier oewers is ontbos en doringbome en meestal bloubos met die hand uitgehaal.
Familie
Lewenslyn
Aantekeninge
Gebore op Rietvlei nr 1, dist. Montagu; Sterf in Nasionale Hospitaal, Bloemfontein aan lewerkanker; graf op Bethulie.
Foto van hom en sy familie - Maria Magdalena Haasbroek (Vrou links agter), Frederik Jacobus (middel agter), Leonard Johannes (regs agter), Jacobus Stefanus (regs voor) en Daniel Hendrik (middel voor).