Bethulie, South Africa
Bloemfontein, South Africa
Biografie
Hy was woonagtig te Victoria Hotel, Bloemfontein, tydens huwelik. Hy was 'n man met 'n ingenieurskop. As seun het hy altyd gepeuter met 'n wekker of 'n horlosie om te sien hoe dit werk. 'n Vliegtuig het hom altyd beindruk as 'n wonderlike stel masjienerie. Sy skoolloopbaan begin by die plaasskool op Vergelegen A en hy moes elke dag twee myl ver loop van Vergelegen B om by die skool te kom. Vanaf std 3 het hy op Bethulie skoolgegaan. Toe hy 12 jaar oud was, is hy saam met sy oom Fanie Oudshoorn toe om daar 'n Tangy gasenjin te gaan afbreek en dit op die trein te laai Bethulie toe om die stoomenjin te vervang wat in gebruik was op Vergelegen B. Op hierdie ouderdom het hy meerendeels die enjin alleen aanmekaar gesit.
Op 'n dag het hy gewaag om by sy oupa op Vergelegen A, in die volstruise se broeikamp in te gaan maar een kwaai volstruismannetjie storm hom en hy moes vlug en was nog besig om deur die draad te kruip toe die mannetjie hom skop en vinnig deur die draad help.
Fred verlaat skool na std 7, hoofsaaklik omdat hy skaam geword het vir die klere wat hy moes aantrek. Die baadjies se moue was te kort en die broeke se pype het bokant sy enkels gesit. Hy kom toe met sy pa ooreen dat hy sal gaan boer maar dat hy sy eie land sal aanlê waarop hy kan saai en oes en hy maak toe 'n stuk grond skoon vanaf die pomphuis to by die grensdraad van Vergelegen B. Hy bou 'n leivoor teen die rantjies; die klipbank het hy self geskiet met dinamiet; die gate met hamer en beitel geboor. In die voormaak proses het hy byna sy lewe verloor nadat hy 'n gat gelaai en die lont aan die brand gesteek het, maar toe hy moes weghardloop, sit sy voet in 'n klipskeur vas. Hy het egter teenwoordigheid van gees behou en net plat bly lê en sodoende sy lewe behou. Toe die eerste oes van die land af kom vat sy pa dit vir homself en gee vir Fred net drie sakke met die verskoning dat hy eers sy kostes moet verhaal. Dit het vir Fred gebreek en hy verlaat die plaas om vir oom Willie van Tonder op die buurplaas te gaan werk en bedryf sy dorsmasjien vir hom vir een en 'n half jaar. In diè tyd koop oom Willie van Tonder die meule op Bethulie en Fred gaan help hom om die meule te bedryf. In die tyd voltooi Fred 'n diploma kursus as passer en draaier en verwerf 'n NTS 3 diploma. Die meule speel egter bankrot en Fred moes Bloemfontein toe gaan om te gaan werk soek. Hy kry werk by Feddels Foundry as passer en draaier, maar na twee jaar besluit hy en oom Willie van Tonder se dogter, Anna, met wie hy toe al sewe jaar lank uitgaan, om op 20 Augustus 1941 op haar 24ste verjaardag verloof te raak en op Fred se 29ste verjaardag op Bethulie te trou.
Na 'n suksesvolle loopbaan by Feddels Foundry besluit Fred om vir die Bloemfonteinse munisipaliteit te gaan werk by hul Tempe steengroef. Op 22 Augustus kry hy 'n vaste aanstelling. Gedurende 1947 gaan die Superintendent van die steengroef met langverlof en in Mei 1947 word Fred aangestel as waarnemende superintendent. Op 1 Augustus 1948 word Fred aangestel as voorman passer en draaier teen 'n salarisskaal van 480 pond per jaar. Op 1 September 1949 word hy aangestel as waarnemende superintendent van Tempe steengroef teen 'n salaris van 540 pond per jaar. In Junie 1954 kry hy 'n salarisverhoging na 620 pond per jaar. Op 1 April 1956 word sy salaris verhoog na 810 pond.
In diè tyd was daar nie 'n gesertifiseerde ingenieur by die groef nie en Fred word aangestel om die ingenieur se pligte op hom te neem vanaf 2 Oktober 1956. Op 1 November 1961 word hy bevorder van Groefsuperintendent na Groefbestuurder. Vanaf 22 November 1962 word alle verantwoordelikheid van springstowwe en skietwerk binne en buite die groef op hom geplaas. Eers nadat die verantwoordelikheid op hom geplaas is, word daar ontdek dat hy nie 'n skietsertifikaat besit nie en word daar op 28 Maart 1963 'n skietsertifikaat aan hom uitgereik. Op 1 Julie 1963 word sy salaris verhoog na R2 700 per jaar. Op 21 Oktober 1965 word hy geloof vir sy doeltreffende bestuur en berging van springstowwe.
Hy was ook afgevaardig om ander munisipale klipgroewe raad te bedien. Op 4 Oktober 1971 word hy aangestel as bestuurder van die Petra groef (afgelei van Petrus wat rots beteken). Ten spyte van al sy verantwoordelikhede by die groef kon hy nog tyd vind om op komitees te dien van die Vereniging van Munisipale Werkers, Traduna en die Mediese Hulpvereniging. Na 28 jaar diens het Fred besluit om die tuig neer te lê.
Familie
Lewenslyn
Aantekeninge
Bekend as Fred.
Sterf as pensioenaris in sy woonstel Harmike 4, 2de Straat, Bloemfontein aan hartaanval; Graf in Bloemfontein.
Foto van hom en gesinslede - v.l.n.r Frederik Jacobus, Jacobus Willem, Anna Fransina (vrou) en Willem Johannes van Tonder (skoonpa).